

|
 Nuwe inwoners in Kanada moet dikwels op die harde manier leer waar om byvoorbeeld goedkoop, kwaliteit-produkte aan te skaf. 'n Magdom informasie is beskikbaar in nuusblaaie, tydskrifte, strooipamflette, op die net en televisie. Maar hoe weet jy in 'n nuwe land wat is goedkoop? Is daar dalk 'n ander winkel net om die hoek van waar jy jou inkopie gedoen het, wat goedkoper is en 'n beter kwaliteit produk verskaf? Hier volg 'n paar waardevolle wenke:
EIENDOM KOOP in jou nuwe land is 'n gewigtige besluit. Hoe gouer jy op die eiendomsleer kom, hoe beter is dit gewoonlik. Huur beteken dikwels 'n stewige deposito neersit en 'n kontrak vir minstens 'n jaar. (Klik op REMAX se lewendige skakel hier langsaan en besoek ook ons EIENDOM bladsy
VERSEKERING is noodsaaklik so gou moontlik nadat jy in Kanada aangekom het. HUIS/INHOUDversekering -Dis Noord-Amerika, moenie verbaas wees as die inwoner van die woonstel onder jou jou dagvaar vir 'n miljoen Dollar omdat jou oorgeloopte bad sy woonstel oorstroom het nie! Kanadese LEWENSversekering is belangrik aangesien jou Suid-Afrikaanse polisuitbetaalbedrae nou met ses gedeel is en jou selfs dalk nie in jou nuwe land dek nie. Besoek gerus Breckles Insurance deur op hul lewendige skakel hiernaas te klik.
TELEFOONKAARTE: 'n Oproep na Suid-Afrika kan enigiets van sestien to negentig Kanadese sent per minuut kos. Koop eers 'n vyfdollar-telefoonkaartjie en toets hom uit. Moenie jou kredietkaartbesonderhede sommer aan enige maatskappy verskaf nie, koop eerder 'n volgende vyfdollar-kaartjie, dit kos nie meer nie. Telefoonmaatskappye adverteer dikwels spotgoedkoop tariewe, maar bekyk die fynskrif behoorlik vir duur konneksie en diensfooie. 'n "Sifa"-kaart is heel moontlik die beste kopie en bied oproepe na Suid-Afrika vanaf agtien Kanadese sent per minuut en is beskikbaar by meeste kafees ("corner stores").
MOTORKARversekering is deur die wet verplig anders mag jy glad nie bestuur nie - klik op TOM WATSON se lewindige skakel indien jy in Ontario gaan woon.
ELEKTRONIESE toerustig soos televisies; disket spelers; telefone; ens is beskikbaar orals maar vir beter pryse hou maar by reuse handelaars soos Future Shop of Best Buy wat behoorlike waarborge bied. Ongelukkig werk SA se elektriese produkte nie in Noord Amerika nie!
'n Reuse winkelgroep genaamd COSTCO is beslis ook die moeite werd om te ondersoek. Dis soortgelyk aan Makro in SA maar pryse kan maklik 20% goedkoper hier wees. Costco verkoop van kos en klere tot kameras en lugversorgers.Klik op hierdie winkels se skakels hieronder om hul produkte te bekyk en jou finansiële beplanning te doen.
Die BESTE MAANDE om in Kanada te land is heel moontlik Julie en Augustus. Dis dan goed warm en dit maak die ankersuitgooiproses makliker. Noodsaaklikhede soos blyplek soek en kinders inskryf voor die nuwe skooljaar begin in September, kan betyds afgehandel word.
BESTUURSLISENSIES geld net vir 60 dae nadat jy arriveer het. Dis noodsaaklik dat jy jou Kanadese lisensie binne hierdie tydperk kry.
TANDARTSE is peperduur. 'n Wortelkanaal behandeling kos maklik R5000 per tand so maak seker jou tande is in 'n uitstekende toestand wanneer jy arriveer en neem dadelik tande versekering uit - soek op die internet onder "dental/health insurance".
WERKSOEK moontlikhede is feitlik dood gedurende somermaande en baie personeelindiensneemsentrums doen nie eers werwing gedurende Mei, Junie, Julie of Augustus nie. Registreer dus lank vooraf by soveel agentskappe op die net as moontlik. Probeer www.workopolis.com, www.monster.ca, www.hotjobs.ca en www.jobshark.ca Maak ook seker dat jou curriculum vitae ("resume" genoem) aangepas is vir Kanada. Dit is byvoorbeeld onwettig om jou geslag, ras of ouderdom te openbaar. Verder verskil die Amerikaanse A4-papiergrootte ook van die Britse A4-papiergrootte wat in Suid-Afrika gebruik word. Maak seker, wanneer jy jou "resume" elektronies stuur/faks, dat die korrekte papiergroottes gebruik word.
"ZELLERS" is Suid-Afrika se weergawe van "Pick 'n Pay" en bied van elektroniese produkte tot klere, tuinmeubels en medisyne (egter geen voedsel nie), aan teen redelike pryse vir redelike goeie kwaliteit.
Pragtige SUPERMARKTE soos "Loblaws" en "Dominion's" (soortgelyk aan 'n groot voedsel-Woolworths), is orals te sien maar dikwels duur. Loer gerus in by "Price Choppers" en "No Frills", meestal heelwat goedkoper vir amper dieselfde kwaliteit.
OPENBARE VERVOER is in die meeste stede goed en betroubaar. Vind uit oor goedkoper maandkaartjies en konsessies. In Toronto byvoorbeeld kan jy Sondae en openbare vakansiedae met 'n "day pass" teen 7.50 dollar, onbeperk rondry en dit is geldig vir twee volwassenes en tot vier kinders!
Kanada se grondgebied is die grootste in die wêreld naas Rusland. Die ooste (Vancouver) tot amper by die weste (Toronto) strek oor meer as 7000 kilometers, dit neem 7 dae per motor, of 7 ure se vlieg. As jy jou stad/dorp en die nuwe land wil verken, is 'n MOTOR eindelik noodsaaklik. Goeie motorkarpryse sluit in Pontiac se Sunfire @ ongeveer 11,488 dollars (elke keer plus 15% Verkoopsbelasting); Chevrolet se Cavalier 11,400; die 2003 Chevrolet Cavalier @ 13 000 en Dodge se SX 2.0 @ 14 000 Dollars. Klik op Chev se skakel vir meer inligting.
MEDIESE sorg is oor die algemeen goed. Maak egter seker of jy onmiddelik gedek is wanneer jy hier land aangesien sekere provinsies soos Ontario, privaat mediese vekering vereis vir die eerste drie maande wanneer jy hier geland het. Doen dus dadelik aansoek vir jou mediesekaart en sosialeversekeringskaart wat beide na drie maande uitgereik word.
$1-WINKELS is orals. Van die groter kettinggroepe (bv. "Dollarama" en "Everything for a Dollar") bied duisende produkte aan teen spotgoedkoop pryse. Die kwaliteit sal jou soms verbaas, so kyk eers hier vir daardie noodsaaklike eerste klompie eetgerei, skryfbehoeftes, elektriese kabels, fotorame, sleutelhouers, jy noem dit - gewoonlik het hulle dit!
IKEA is 'n baie interessante winkel wat nie gemis moet word nie. Hulle bied vars huishaard te koop aan wat modern is en goed geprys is. Ideaal vir mense wat van vooraf moet begin maar luukses is ook nie uitgesluit nie.

 
|