Free Web space and hosting from canadianwebs.com
Search the Web






HARTLIK WELKOM BY LEKKERBEK!
Alle Afrikaanses en mense wat van Afrikaans hou en hul vriende versprei
oor die aardbol, is welkom by LEKKERBEK. Hier beskou ons alle vorme
van die lewe uit verskeie kante, hoe vreemd ookal. Bydraes in enige
vorm is welkom. LEKKERBEK nooi jou uit om deel te neem aan
verskeie meningsopnames. Dis so ontwerp dat wanneer jy
stem, gemorspos nie by jou sal uitkom nie





Mense is nou eenmaal vreemde diere. Ons sit jare lank in Suid-Afrika en kla oor misdaad, korrupsie, swak ekonomie en wie weet wat nog. Daarna sit ons nog 'n paar jaar in Kanada en kla oor die weer, die vreemde kultuur en die soort lewenstandaard. Dan keer ons maar weer terug na Suid-Afrika. Gryser, maar wyser?

Bostaande prentjie geld nie vir almal nie, maar mens kry soms die indruk dat dit ook nie so ongewoon is nie. Gaan kyk maar in tydskrifte (insluitend LEKKERBEK) se briewekolom na teruggekeerdes se verhale. Dieselfde refrein word oor en oor gesing: ons kon nie aanpas nie; die weer is afgryslik; die mense is vreemd, ons was voortdurend depressief; ons lewenstandaard was in der waarheid heelwat laer as wat dit in Suid-Afrika was.

Hoe is dit dat mense so seker kan wees hulle wil Suid-Afrika verlaat, en dan binne 'n jaar of twee net so seker kan wees dat hulle wil terug? Het hulle vergeet van al die negatiewe dinge wat hul in de eerste plek hier weggedryf het? Of het hulle bloot besluit dat dit toe eintlik nie so erg was as wat hulle gedink het nie? Wat is dit omtrent Suid-Afrika dat vele van ons mense 'n haat-liefde-verhouding met die land het?

Miskien moet mens emigrasie beskou teen die breër agtergrond van die moderne kultuur. Blanke Suid-Afrikaners is by verre nie die enigste mense op die planeet wat ontevrede voel met hul lot nie. Gaan kyk enige plek in die Westerse wêreld, en jy sien dieselfde ding: 'n lewenshouding - thirty-something malaise. Skynbaar ly omtrent almal van so 25 tot 40 daaraan. Ons is jonk, finansieël suksesvol, besig om belowende loopbane te bou, het redelike goeie familie- en vriendskapsbande. Ons leef in 'n wêreld wat selfs vir 'n keiser uit 'n minder tegnologies gevorderde eeu soos 'n absolute fantasie-paradys sou gelyk het. Ten spyte van dit alles is ons ongelukkig, en ons weet nie eintlik waarom nie. Ons het alles wat enigiemand kan begeer, en tog voel ons vervreemd, verveeld, doelloos.

Is hierdie verskynsel 'n uitvloeisel van die inligtings-revolusie? Vir die eerste keer in die geskiedenis het baie groot getalle mense toegang tot inligting oor ander lande en mense. Ons het almal nog altyd gedink die gras is groener aan die ander kant, maar nou besef ons vir die eerste keer net hoe baie heinings daar is, en hoe klein ons eie kampie eintlik is. Noem omtrent enige aspek van Suid-Afrika, en dit is maklik om te dink aan 'n land wat op daardie punt beter as ons daaraan toe is. Amerika is ryker, Duitsland is meer stabiel, Holland is meer verdraagsaam, Japan is meer produktief en gedissiplineerd, Australië is beter in sport, Kanada het minder misdaad. Wanneer mens so dink, is dit baie maklik om te begin dink dat Suid-Afrikaners regtig sleg aan die kortste ent trek. En natuurlik kan enigiemand in enige land presies dieselfde redenasie voer. Dit is daarom nie so ongehoord om te verneem van Kanadese wat na Suid-Afrika emigreer nie. Waarom?, "dinge gaan meer beroerd in Kanada: Australië is meer stabiel, Amerika is ryker, Suid-Afrika het beter weer..."

Die mees ontstellende is dat mense wat uiteindelik na hul geboorteland terugkeer, nie noodwendig leer om meer waardering te hê vir dit wat hulle het nie, want hulle weet nou beter as die tuisblyers hoeveel moontlikhede daar in die wêreld is. Dit is moontlik om misdaad hok te slaan. Dit is moontlik om die ekonomie aan die groei te hou. Dit is moontlik om 'n hoogs beskaafde bevolking te hê. Maar dit is nie moontlik om al hierdie dinge in een enkele land verenig te sien nie. Terwyl jy in Kanada sit geniet jy die veiligheid en stabiliteit, maar jy mis Suid-Afrika se weer en mense. En wanneer jy uiteindelik na Suid-Afrika terugkeer, geniet jy die lekker weer en die lekker mense, maar jy mis Kanada se stabiliteit en veiligheid. Die gevolg is vervreemding. Jy voel nêrens meer regtig tuis nie. Jy begin selfs die dag verwens toe jy vir eerste keer 'n atlas oopgemaak het en agtergekom het Suid-Afrika is nie die enigste land in die wêreld nie. Ignorance is dan seker bliss...

Hierdie hele situasie is bloot homo sapiens se kollektiewe groeipyne, en dalk gaan dit met die volgende geslag beter. Dit hang ook veel van die persoon af. Vir party is ons geboorteland in ons siele ingeëts. Vir ander is dit weer maklik om wortel te skiet in 'n nuwe pot. Meeste van ons val egter tussen hierdie twee ekstreme, en vir ONS is dit nie so maklik om antwoorde te vind nie.

Ek het in Nederland gewoon en het in sekere opsigte daar meer tuis gevoel as wat ek ooit in Suid-Afrika gevoel het. Die land is hoogs opgevoed en beskaafd, het feitlik geen misdaad nie, en bied boonop vele geleenthede vir die kulturele avontuursoeker. Maar een koue herfsdag ry ek met my fiets verby 'n tuin waar 'n man herfsblare en droë gras verbrand. Die oomblik toe die aroma van die brandende gras my neus tref, word ek meegevoer na my kinderdae op die hoëveld, waar winterkoue en die reuk van brandende gras so sinoniem is. Toe weet ek: sekere dinge sit in jou siel, nie in jou kop nie.

Wat doen jy as beide Transvaalse hoëveld EN Kanadese woude in jou vasgesteek het, sodat jy nou nie in een van die twee lande meer rus vir jou siel kan vind nie? Moet mens maar leer om met hierdie ding saam te leef omdat jy nie 'n keuse keuse het nie? Miskien kan jy nie besluit waar jy wil wees nie, maar jy sal moet besluit waar jy gaan wees. En wanneer jy daardie besluit geneem het, wag nog een vir jou: gaan jy op die positiewe konsentreer, of op die negatiewe? Die antwoord op hierdie laaste vraag is nie iets wat neergeskryf kan word nie. *Brian van der Spuy















Hier volg twee ware verhale. Albei ewe tragies, maar hulle verskil in een belangrike opsig:

Verhaal 1:
'n Paar jaar gelede stort 'n gekaapte vliegtuig neer in die see naby Mauritius. 'n Afrikaanse egpaar wat daar vakansie hou, het toevallig hulle videokamera byderhand, en skiet 'n dramatiese stuk beeldmateriaal, wat hulle later vir honderdduisend dollar aan CNN verkoop. In ag genome die wisselkoers, 'n aardige bedrag, en sekerlik welkom vir 'n pasgetroude egpaar wat wil gaan huis bou en 'n lewe begin. Maar 'n jaar later is hul huwelik op die rotse. Hulle kon nie ooreenkom oor wat om met al die geld te doen nie.

Verhaal 2:
'n Paar weke gelede, berig 'n plaaslike koerant: 'n Elfjarige kind, in 'n oomblik van onoplettendheid, swaai met haar fiets in die verkeer in. Sy word doodgery deur 'n vrou wat net 'n paar huise van haar ouerhuis in dieselfde straat woon. Die volgende dag het die koerant 'n foto van die kind se ma en die vrou wat haar doodgery het, waar hulle in omhelsing staan en saam rou oor die tragedie. Miskien ontstaan 'n nuwe en onverwagte vriendskap tussen die twee families, en dan het iets positiefs voortgevloei uit wat andersins bloot nog een van daardie voorvalle wat mens aan God se bestaan laat twyfel, sou wees.

Hierdie twee verhale is eintlik nogal simbolies van twee verskillende en onversoenbare lewensfilosofieë. Stel jou nou voor die tweede verhaal het hom in Amerika afgespeel. Wat
is die kanse dat die twee vroue mekaar sou ondersteun het, eerder as om mekaar vir die volgende tien jaar voor die hof te sleep, in die een sinlose wraaksaak na die ander? En wat die eerste verhaal betref, is dit nie die soort storie wat 'n mens laat uitroep "hoe tipies Amerikaans!" nie? Tot jy op daardie videoband se klankbaan hoor hoe die twee Afrikaans met mekaar praat.

Ek wonder hoeveel lesers onthou die surrealistiese kortverhaal van Jan Rabie, "Drie kaalkoppe eet tesame." In die verhaal sit drie kaalkopmans aan by 'n tafel in 'n restaurant, en val weg. Hoe meer hulle eet, hoe hongerder raak hulle. Die kelners dra later enigiets aan wat hulle die hande op kan lê, hele beeste, hoenders, en, soos Rabie dit stel, "selfs 'n kinderhofie, rosig gekook." Uiteindelik kan die kelners nie meer voorbly om die eters vol te stop nie, en die mans begin die ander gaste, en mekaar, en hulself, verslind tot net hul koppe oorbly.

Hierdie verhaal is een van die mees treffende uitbeeldings van ons moderne verbruikerskultuur. Dit vertel jou die hele storie, in die fynste detail, sonder om selfs een enkele keer na ekonomiese statistieke hoef te verwys. In die moderne wêreld is Noord-Amerika, Europa en die ryk lande in die Ooste ons planeet se drie kaalkoppe, en hulle vreet en vreet tot hulle uiteindelik ook mekaar en hulself sal verslind.

Mens kan nie wen met materialisme nie: hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê, en niks sal jou ooit heeltemal tevrede stel nie. Soos die man op daardie irriterende infotensies altyd uitroep: "But wait! There's more! If you call within the next hour, you also get...ABSOLUTELY FREE!" In die Weste verdien jy altyd meer, hoe ryk jy ookal is. En daarom is jy ook altyd ongelukkig en ondankbaar vir wat jy reeds het.

Nou is dit maklik om uit te roep: maar ons mense is mos nie so nie! Ons is immers Afrikaners. Ons is wêreldwyd bekend vir ons gasvryheid, ons vriendelikheid, ons openheid. As ons vyande honger is, gee ons hulle kos. As hulle moeg is, gee ons hulle 'n bed. Ek hou daarvan om te dink dat dit alles waar is. Is dit werklik? Ek weet nie, maar ek dink soms dat dit miskien een rede is waarom soveel Afrikaanse immigrante uiteindelik na Suid-Afrika terugkeer. Miskien kan hul op die lange duur die kil materialisme en beheptheid met litigasie in die Westerse wëreld, nie meer verduur nie?

Suid-Afrika het misdaad, en korrupsie, en seker alles wat LEKKERBEK in "33 Oppakredes" noem, maar ons het ook iets anders wat die buiteland nie het nie -- ons het mense wat nog MENSE is.

'n Handvol jare gelede werk ek vir die Departement van Landbou. Ons vlieg eendag af Kaap toe om met 'n senior bestuurder in die privaatsektor te gaan onderhandel oor 'n saak. Daar aangekom, verwys personeellede ons na so 'n stowwerige klein karavaankantoortjie wat daar eenkant staan. Die man wat ons ontmoet, is geklee in 'n T-hemp en 'n kortbroek, en loop kaalvoet. Hy groet ons asof ons ou vriende is, oorval ons met tee en beskuit, en sou seker nou nog land en sand gesels het as ons nie moes ry vir ons volgende afspraak nie. Stel jou nou voor 'n New Yorkse sakeman ontvang sy kollegas uit Los Angeles op daardie manier!

Maar dit is juis daardie plat-op-die-aarde informaliteit wat ons mense anders maak. Dit is hoe ek van my mense hou, en ek hoop hulle bly so. Selfs al woon hulle dan nou ook waar op aarde. Los materiële rykdom, in die proses verloor jy jou siel. Los die "beskaafde Westerlinge" om foto's van gru-ongelukke te neem. As ons nie die wêreld kan oortuig dat ons nie meer fasciste en rassiste is nie, laat ons dan ten minste probeer om die positiewe aspek van ons reputasie gestand te doen.
*Brian van der Spuy

















K A N A D A
Geen jaagtog na Suid-Afrika se gedurige maak-dit-werk pogings en oorlewingsvrese nie.
Natuurskone belewenisse - ysblou lug gepuur met lamswit sneeu en sonskyn.
Klassieke moderniteit in standpunte, denke en selfslewensregverrassings.
Dis 'n bymekaarkomplek van vars geleenthede en uitdagings.
Ervaar die vryheid van uitgestrekte ruimte.
Uitmuntende mense en gesondheidsorg.
Vaarwel aan geweld, soveel verlies...
Verwelkom boonsteklas veiligheid.
Suid-Afrikaan, jou plek is hier.
Kom leef.




















Die dag toe Madiba uit die tronk stap, was daar seker min Afrikaners wat nie vasgeplak voor hul televisiestelle sit en kyk het nie. Hoeveel van ons het gesit en wag vir grootskaalse wraak, burgeroorlog, verwoesting en vervolging van ons taal en kultuur?

Van die verwagte katastrofe het toe nie veel gekom nie, of ten minste, nog nie tot dusver nie. Vir meeste van ons gaan die lewe voort soos altyd. En tog is alles nie presies soos dit was nie. Die dae van bevoorregting is verby. Jy kan nie meer net aanvaar dat die amptenaar agter die toonbank jou taal praat of selfs verstaan nie. Teen wil en dank is ons nou almal gelyk.

Vir vele Afrikaners is dit 'n moeilike aanpassing. Dit is maklik om te voel dat ons taal en kultuur nie net geïgnoreer word nie, maar selfs aktief ontmoedig en onderdruk word. Afrikaans mag dalk net een van elf amptelike tale wees, maar dit is immers 'n AMPTELIKE taal, so waarom kan ek nie daarin bedien word by die plaaslike munisipaliteit nie? Interessant genoeg is dit ook nie net Afrikaners wat hieroor kla nie. Al die land se inheemse tale word toenemend deur Engels verplaas in beide die openbare- en privaatsektore. Is dit dalk tyd vir 'n taalrebellie?

'n Oordrewe aandrang op Afrikaans is nie net onrealisties nie, maar op die lang termyn dalk selfs teenproduktief omdat dit Afrikaners soos 'n klomp gedagtelose fasciste laat lyk. Boonop het regeringsbeleid maar min effek op die lot van tale en volke.

Gedurende die twintigste eeu het Engels onteenseglik die wêreld se lingua franca geword. In 'n veeltalige wêreld is dit eenvoudig nie realisties om te verwag dat almal in hulle moedertaal bedien kan word waar hulle nou ook al is nie. Ons kan nie verwag dat alle amptenare al elf tale magtig moet wees nie. Dit beteken dat as ons in Afrikaans bedien wil word in 'n gebied waar omtrent niemand die taal magtig is nie, dan moet ons nou maar wag tot hulle iemand kan opspoor wat ons taal kan praat. Om daaroor te kla sal nie help nie: die realiteit steur hom nooit aan menslike beginsels soos "regverdigheid" nie. Die eenvoudige, vinnige en vaartbelynde alternatief is dat ons almal Engels leer.

Dit is immers wat die res van die planeet reeds gedoen het, of baie entoesiasties besig is om te doen. Ons kan heelwat leer uit Europa se ervaring in hierdie verband: hulle het immers ook nou een groot land geword, met 'n hele boel verskillende tale. In Europa is daar omtrent nie 'n siel oor wat nie heel vlot is in Engels nie. As 'n Italianer en 'n Deen mekaar raakloop, is die kanse goed dat hulle in Engels sal kommunikeer. Multinasionale Europese maatskappye doen dikwels al hulle besigheid in Engels, selfs wanneer omtrent geen van hul werknemers Engelsprekend is nie. Beteken dit dat die verskeidenheid van Europa se tale en kulture nou gaan uitsterf? Te betwyfeld. Inteendeel, hulle het miskien juis meer kultuurvas geraak, ten spyte van die vele Engelse woorde wat hulle pad in Europese tale ingevind het.

Wat van regeringsbeleid in Suid-Afrika? Is dit anti-Afrikaans? Gaan die afskaling van Afrikaans in openbare instansies nie vroeër of later die taal doodsmoor nie? Nie noodwendig nie.

In sy boek "Mother Tongue: The English Language" skryf Bill Bryson: "All the evidence suggests that minority languages shrink or thrive at their own ineluctable rate. It seems not to matter greatly whether governments suppress them brutally or support them lavishly." Hy ondersteun die stelling met verskeie voorbeelde. In Ierland het die Ierse regering nou al baie jare 'n beleid om die inheemse Keltiese taal (in Engels bekend as "Gaelic") te bevorder. Dit is die land se amptelike taal, dit word as verpligte skoolvak aangebied, dokumente word daarin geskryf, dit verskyn in plekname en op padtekens, en mens sou dink dat dit net 'n kwessie van tyd is voor die Iere almal weer Kelte is. Maar die grootse program het geen effek gehad nie. Kelties is onstuitbaar aan die verdwyn, en net 'n baie klein minderheid van die land se bevolking praat dit nog as eerste taal.

Net anderkant die Ierse see lê Skotland, waar 'n variant van Kelties ook nog gepraat word. In Skotland bied die regering die taal feitlik geen beskerming of ondersteuning nie. Tog is Skotse Kelties aan die gedy, en die hoeveelheid sprekers is selfs besig om toe te neem. En ten spyte daarvan dat net twee of drie persent van Skotland se mense Keltiessprekend is, kan taalkundiges duidelike tekens van 'n Keltiese invloed bespeur in die woordeskat en grammatika van die Engels wat in Skotland gepraat word.

Dieselfde storie speel hom af in ander tale. Die Baskiese taal en kultuur van Noord-Spanje word tot vandag toe nog stief behandel, maar toon geen tekens van uitsterwing nie.

Vir Afrikaners wat vertroud is met die Britse onderdrukking van Afrikaans na die Anglo-Boere-oorlog, behoort die geskiedenis van die Walliese taal heel bekend te klink. Tot ongeveer 1900 was Wallies ("Welsh" in Engels) feitlik verbode in Brittanje - in skole, howe en vele werkplekke. Kinders wat op skool uitgevang is dat hulle Wallies praat, is aan allerlei vernederende strawwe onderwerp. Deur almal behalwe die Walliesers self, is die taal beskou as 'n agterlike en veragtelike kombuistaal. Maar in plaas van uitsterf, het Wallies van krag tot krag gegaan. Gedurende die twintigste eeu het die Walliesers uiteindelik hul geduld met die regering verloor, en na 'n lang veldtog van vandalisme het die taal amptelik erkenning gekry, en word dit vandag deur die Britse regering gesubsidieer. Maar dit is duidelik dat dit nie die subsidies is wat die taal aan die gang gehou het nie, maar sy sprekers.

Gedurende die lange jare van patriargale regering het Afrikaners in Suid-Afrika geïnstitusionaliseer geraak. Met elke probleempie wat opduik, is ons eerste instink om na die regering te kyk vir hulp. Ons kan maar ophou kyk. Daar gaan nie meer hulp uit daardie oord kom nie. Veral nie vir die duisende van ons mense wat deesdae buite Suid-Afrika woon nie! Maar waarvoor wag ons in elk geval? 'n Taal word nie deur 'n regering aan die gang gehou nie. Nie eers as die regering probeer nie. 'n Taal word wel in die monde en penne (deesdae sleuterborde!) van sy sprekers aan de gang gehou. Solank ons Afrikaans praat, lees en skryf, het ons niks om ons oor te bekommer nie. Selfs 'n nederige en informele webpublikasie soos LEKKERBEK doen dalk meer vir die toekoms van ons taal as enige hoeveelheid wette, parlementêre taalkomitees of politieke plakkaatswaaiery.

*Brian van der Spuy. Sandton, Suid-Afrika -brianvds@yahoo.com






STATS~KANADA
Volgens Statistiek Kanada vul mense met deeglike kwalifikasies die hoogs betaalde beroepe. In 'n ondersoek is bevind dat elke addisionele jaar van studie na skoolvlak, 'n individu se jaarlikese verdienste met 8.3% opstoot. Dit kom neer op 2490 Dollar (sowat R17 000) per jaar. Die ondersoek is gebaseer op 'n jaarlikse gemiddelde salaris van 30 000 Dollar. Klik op die IMMIGRASIE bladsy vir al die inligting oor die nuutste wetgewing.



ASIELAANSOEK
'n Voormalige Kaapse joernalis se aansoek om asiel in die VSA omdat sy vir haar en haar familie se veiligheid in Suid-Afrika vrees, het die regerings van albei lande aan die kopkrap. Eva Georgia het onlangs in 'n onderhoud met die Los Angeles Times beweer dat haar ondersoekende joernalistiek en uitdagende houding haar en haar familie se lewe in gevaar gestel en haar landuit gedwing het. Sy het vertel hoe 'n polisiekommissaris wat korrupsie ondersoek het, in 'n raaiselagtige motorongeluk gesterf het, hoe 'n joernalis wat gedagvaar is om te getuig in 'n moordsaak, self vermoor is, en dat 'n vriend wat saam met haar gewerk het om korrupsie te onbloot, verdwyn het. Voorts het ook vertel 'n aanvaller het by 'n verkeerslig 'n vuurwapen teen haar kop gedruk en daar is by haar huis ingebreek. Drie jaar gelede het sy breekpunt bereik en na die VSA gevlug, waar die immigrasiediens asiel aan haar toegestaan het.







Omrede ek alleen en eensaam is, gaan slaap ek vroeg saans. Ek sit eers ure voor die rekenaar en bekyk al wat 'n webwerf is, lees die nuus van Suid-Afrika en raak dan later so vaak, dat ek maar nood gedwonge moet gaan slaap. Omrede dit so vroeg donker raak hier waar ek woon, dis nou in die Noordelike halfrond, in die staat van Iowa in die VSA - en die donkerte kom hier al voor 5nm - is die aande so lank dat teen die tyd dat ek kooi se kant toe staan, is dit kwalik 9 nm! Dit laat my dink aan my oorlede ouers wat gereeld in die bed was teen 9 nm en dan die 9 uur nuus geluister het op die radio en dan die lig afgesit het om te gaan slaap. Ek is nie so nie, ek wil wakker wees en opbly, maar wat vang mens nou met jouself aan, as dit jou smaak jy sit al die heel aand voor die rekenaar en dan teen die tyd dat jy tou opgooi, is dit nog nie eens 9 uur nie? Dis hierdie verdomde plek se skuld wat nie soos my Heimat is nie. Die yanks met hulle verskillende tye en tydsones. Net daarvoor kry Amerika 'n groot swartkol in my boek. Nou die vroeg gaan slaap is nie die ergste nie, dit het 'n nadraai, en dis die vroeg wakker word. As mens so vroeg gaan inkruip, dan is jy hier teen 3 - 4 vm totaal uitgeslaap en dan gaan sit jy maar weer voor ou grootoog, want daar is niks anders te doen nie. Hulle sê mos die hoop beskaam nie, so dan kyk ek of daar nie dalk iewers 'n briefie van iemand na my kant gekom het nie. Meeste van die tyd is daar niks. Dan is dit koffie drink wat later ontaard in 'n koffie gesuipery, want die dag wil nie breek nie, dit bly nag. Teen hierdie tyd is ek al lankal gereed vir werk, aangetrek en reg vir die dag se dinge, maar die duister hou my nog binne, wagtend op die oggendskemering. Dan as dit lyk of die dag so effe wil begin breek, dan loer ek by 'n venster uit om net weer 'n slag dag te sien, want dan is ek gaar van swart, die kleur van die nag. Dis so asof die noodlot my bloots ry, die lewe speel speletjies met my. Net om my te bewys ek is nie in beheer nie, kom die verrassing: Dis dan nie meer swart buite nie, dis spierwit! Sneeu dryf en dwarrel geluidloos uit 'n grou donker hemel en die aarde is so wit soos 'n gestyfde spierwit laken. Dit beteken ek hoef nie eens die moeite te doen om uit te gaan nie, want vir die volgende paar dae sal daar nie gewerk kan word nie. Alles is toe gesneeu en dis net 'n gemors. Sodra die sneeu weer smelt, is dit 'n pappery en 'n moddernes, so ek bly rustig tuis. Dis my wêreld, my yskoue swart en wit wêreld. "Gaan huis toe man", hoor ek weer in my kop...*Joe - eldorado@telkomsa.net






WELCOME  FRONTPAGE  "VOORBLAD"  IMMIGRATION  PROPERTY  NEWS  24/7  LETTERS  PROFILE  HEARTBEAT YOUR VIEWS  BITS  &  PIECES   STATISTICS  TOP TIPS  "BESTE WENKE"  "SON EN SKADU"  "IS DIT  KUNS?"    MORE  LETTERS   /  BRIEWE     LINKS    CONTACT    SMOOTHTALKER  /  KONTAK    LEKKERBEK