Om na 'n ander land te emigreer is 'n besluit wat 'n mens nie ligtelik maak nie. Kanada se onlangs aangepaste immigrasievoorwaardes wat dit feitlik onmoontlik maak om hierheen te emigreer as jy nie reeds 'n regeringsgoedgekeurde werk het nie, spaar 'n mens dalk lang trane en spanninge om hier werk te soek.

Moenie dat enigeen vir jou ore aansit nie, om hier 'n goeie betrekking te vind is byna onmoontlik, ongeag jou kwalifikasies. Plaaslike nuusblaaie is vol van dokters wat eindig as rakpakkers in supermarkte en rekenmeesters is gelukkig om na maande en selfs jare se werksoek, 'n nederige inkomste te verdien as pizzakoeriers!

Die prentjie is darem ietwat meer rooskleurig sou jy bereid wees om nie in een van die groot stede te bly nie. Toronto, Vancouver en Montreal byvoorbeeld kan jy maar op jou maag skryf. Ongelukkig is van die kleiner gemeenskappies waar werk meer geredelik beskikbaar is erg noord op Kanada se kaart en bitter koud. Natuurlik is die salarisskale ook heelwat afgeplat vergeleke met stedelike syfers.

Dis eenvoudig, alhoewel die meeste Suid-Afrikaanse grade en diplomas wel in Kanada erken word, maak jou maar reg vir..."Jammer, geen Kanadese ondervinding nie...ons hou egter jou curriculum vitae in 'n laai..." Vergeet ook maar daarvan om binne twee jaar 'n kredietkaart hier te kry al sou jy ook voltyds werk. Weer dieselfde scenario...geen Kanadese kredietrekord nie. Maak nie saak hoeveel goue kredietkaarte jy in Suid-Afrika in jou beursie mee gepronk het nie. Of hoeveel jy in Suid-Afrika of enige ander land verdien het nie.

'n Blyplek vind, weer eens: geen huurrekord in Kanada nie... tensy jy in staat is om minstens ses maande se huur vooruit te betaal. (Vir 'n gemiddelde twee slaapkamerwoonstel sowat R50 000 se Dollars.) Kontant word ook nie aanvaar nie, slegs Kanadese bankorders.

Die goeie nuus? Die misdaadsyfer is maar 'n fraksie van Suid-Afrika s'n en in 'n stad soos Toronto met meer as vyf miljoen inwoners, is veral erg gewelddadige misdade byna ongehoord sou dit met die Suid-Afrikaanse prentjie vergelyk word. Saans kan jy ook maar gerus gaan stap onder die sterre selfs in 'n gemiddelde woonbuurt - onlangs is bevind dat die meeste mense in 'n spogwoonbuurt van Mississauga, nie eers hul voordeure sluit nie!

Kanadese is vriendelik en hulpvaardig en immigrante word dikwels met respek behandel. Immers is 17.3% van volbloed Kanadese, immigrante. Die weer is nie onleefbaar koud nie. Alhoewel dit soms bitter koud kan word veral wanneer die wind waai, is die meeste stede behoorlik daarvoor ingerig. Toronto bv het 'n netwerk van "sypaadjies" tien kilometers lank onder die grond waar jy straatkafeetjies, blommeverkopers, boekwinkels, ens sal aantref. Dis weer alles verbind met reuse moderne winkelsentrums wat weer aanmekaargevleg is met die ondergrondse moltrein netwerk wat uitsprei na die woonbuurtes.

Somerdae in Toronto bereik 'n aanvoelbare temperatuur van diep in die dertigs. Die somer van 2002 was die warmste in 200 jaar en saam met die humiditeitsfaktor (genoem "humidex"), is 'n top temperatuur van 44 grade Celsius aangeteken! Vancouver se temperatuur byvoorbeeld is 'n katspoeg kouer as Kaapstad s'n en met meer as 'n miljoen inwoners, een van die mooiste stede op die aardbol.

Kanada se kleiner stede soos Calgary (omtrent Bloemfontein se grootte), is wonderskoon met bergreekse wat jou asem wegslaan. Openbare vervoer is meestal uitstekend, relatief goedkoop en die strate skoon. Sou jy die pryse van elektroniese toerusting, meubels en kos vergelyk met bv Amerika, dan is Kanada 'n goeie 20% goedkoper.

Kom kuier gerus in hierdie lieflike land en kom kyk self hoe dit lyk, maar doen jou huiswerk goed voordat jy finaal hier kom wortels skiet.






WELCOME  FRONTPAGE  "VOORBLAD"  IMMIGRATION  PROPERTY  NEWS  24/7  LETTERS  PROFILE  HEARTBEAT YOUR VIEWS  BITS  &  PIECES   STATISTICS  TOP TIPS  "BESTE WENKE"  "SON EN SKADU"  "IS DIT  KUNS?"    MORE  LETTERS   /  BRIEWE     LINKS    CONTACT    SMOOTHTALKER  /  KONTAK    LEKKERBEK